/Xam-voorgevoelens die boesman se alfabet is geskryf in sy lyf die letters praat en roer die letters beweeg die boesman se liggaam hulle beveel al die ander om stil te bly hy self is absoluut volkome stil dan voel hy sy liggaam saggies aan die binnekant klop ‘n droom praat vals ‘n droom kan jou mislei maar die voorgevoel is dit wat die waaarheid praat die kloppende gewaarwording wat sê: iemand is aan die kom veral die geklop in ‘n wond as jy loop en die wond beginklop kan jy die kinders stuur om te gaan kyk oupa is in die voetpad op pad na jou toe dit voel jy in die wond die wond sê dit aan jou of as jou ribbes begin klop dan vat jy pyle want jy voel die swart haartjies op die springbok se ribbes as jy Brinkkop uitklim kyk goed tussen die bome en die groen spruitjies die springbok het jy reeds met jou lyf gesien want jy voel die sensasie van bloed langs jou dye en kuite af asof jy reeds die springbok op jou rug dra asof die springbok reeds langs jou dye af bloei daarom wag ek altyd stilweg vir die woorde van my lyf ek voel in my voete hoe diere om die skerm snuffel ek voel aan my skedel as ons die horings van die hartebees afkap ek kry ‘n sensasie van my voorkop af al met die neus langs soos die donker vlek na aan die springbok se snoet ek voel my oe uitswel soos die vlekke om die springbok se oe as ek iets voel kriewel soos vlooie weet ek my lyf het ‘n volstruis gesien ons le voor die skerm ons le teen die uitgestrekte brinkkopberge dit lyk asof ons slaap dit lyk asof ons dut maar ons lees ons liggame ons voel alles wat daar onder op die vlaktes beweeg alles wat verby die hutte trek die holtes agter ons kniee kry ‘n gevoel en dan wag ons en dan kom al hierdie dinge na ons toe //Kabbo Uit: "die sterre se ‘tsau’ /Xam-gedigte … gekies en versorg deur Antjie Krog  
|